Status angs

Ek is deur Wag-‘n-Bietjie getag, of soos George dit so oulik sê, ge-etiketeer vir die 123….678 spel. Jy moet die boek vat wat jy huidiglik besig is om te lees, dit op bladsy 123 oopmaak en dan sinne 6, 7 en 8 van daardie bladsy weergee. Ongelukkig vir my is dit so dat die boek wat ek op die oomblik lees lang sinne en ‘n tabel as deel van sin 8 op bladsy 123 het.

Read the rest of this entry »

Comments (9)

Om ons bymekaar te hou

Daar staan die gesinnetjie in ‘n speelgoedwinkel in die hart van Bloemfontein, die Afrikaanse hoofstad van Suid-Afrika: Afrikaanse jong ma en pa (uit die gesprek lui ek af dat hulle nou in Engeland woon), Afrikaanse oupa en ouma en Engelse kleinkind. Ek luister terwyl hulle in Engels vir die kind koer en kraai en sy eerste woorde entoesiasties beaam: “Yes, BLOCKS, that is building blocks.”
Read the rest of this entry »

Comments (19)

Sulke misdadigers in SA benodig

‘n Rare ding het anderdag met ‘n vriendin van my gebeur. Hulle het vir familie in Frankryk gaan kuier en toe word haar selfoon op Heathrow lughawe gesteel. By die huis gekom, bel sy toe haar eie nommer en so ewe kom daar ‘n antwoordmasjien boodskap op in (vermoedelik) Russies. Sy los toe maar ‘n boodskap in Engels en sê beleefd dat sy nie omgee oor die foon nie, maar stuur asseblief my sim kaart terug na so-en-so adres, want al ons fotos en vriende se nommers is daarop. ‘n Week later kom daar ‘n CD in die pos aan met ‘n ewe beleefde brief van die dief. Hy het haar fotos op CD gebrand en aangestuur, maar die sim kaart kan hy ongelukkig nie aanstuur nie, want hy het dit nodig.

Wat sê mens in so ‘n geval? Jou vermetele vloeksel, hoe durf jy my foon steel? Gee hom onmiddelik terug. Of, dankie vir die moeite met my fotos jou bedagsame dief.

Comments (9)

Die brief wat ek nie gepos het nie*

*9 jaar gelede

Liefste Familie,

Ek is jammer dat dit nou al weer ‘n tydjie is sedert ek laas geskryf het. Ek het maar bietjie gewag en gehoop dat dit beter sal gaan, dan kan ek ten minste goeie nuus skryf.

Vanaand verlang ek weer so baie. Ek mis julle en ek mis ons land met sy duidelike onderskeid tussen son, see, lug en aarde, waar alles nie in een grou, grys kombers saamsmelt nie. Ek mis sonsondergange en skadus en ek mis stories. Snaakse ding om te mis: mense se stories.

Dit is so bitter nat en bitter koud en bitter mistroostig. Deesdae stap ek elke oggend padlangs bus toe, want die sypaadjies is vol lang, pienk erdwurms. Hoekom sal erdwurms uit die grond kom en op die sypaadjies vergader? Is die grond selfs vir hulle te nat? Ek weet nie en daar is ook niemand wat ek kan vra nie. Om te wonder oor dinge word nie geduld hier nie. My mede-studente se gesprekke gaan oor hoe baie hulle gedrink het en waar hulle orals gekots het. Ek drink nie so baie nie en ek kots nie so graag nie. Ek wonder eerder oor die erdwurms. Ons het nie veel vir mekaar te sê nie.

Verder leer ek fluks en werk hard, maar daar was vandag amper ‘n ding. Die vrou wat my moet help is besig en ek is vir haar net ‘n irritasie. Sy blits heen en weer en blaf bevele oor haar skouer. Haar aksent is so swaar en my oor is, selfs na ‘n paar maande in Engeland, nog nie gewoond aan die moeilike Yorkshire aksent nie. Ek het haar nie reg gehoor nie en iets verkeerd gedoen. Nou moet ek van heel voor af begin.

Dinge is seker anders in London, daar is mos heelwat Suid-Afrikaners en elke tweede persoon is ‘n uitlander van een of ander soort. Hier in die Noorde is dit kouer en gryser met baie minder mense van ander kulture. Die Engelse het vir ons uitlanders niks tyd nie. Waar ek werk is daar darem ‘n Sjinese outjie ook. Ek en hy sit gewoonlik bymekaar. Ons gesprekke is moeisaam, want hy verstaan baie min Engels en Yorkshire kan hy glad nie volg nie. Ek vertaal maar so stuk-stuk vir hom die nodigste. Partykeer dink ek hy is gelukkig in daardie opsig. Hy is heeltemal onbewus van die snydende, sarkastiese opmerkings en van die feit dat almal hom ‘the bad breath’ noem.

Dankie vir jou epos skoonsus Ella. Jy sê ons moet bietjie vir jou geld stuur, dan kom kuier jy vir ons. Jy sê ons is mos nou die gelukkiges wat ponde verdien en skatryk is. Ja Ella. Ek is bly om te hoor julle het die vakansie by julle strandhuis in Jeffrysbaai geniet en dat Hennie se nuwe vier-by-vier soos ‘n droom ry. Tog gaaf dat ou Anna kon saamgaan om na die kinders te kyk en te kook. Ai Ella, betaal haar tog maar ‘n bietjie meer, want hier in die Noorde van Engeland is daar vir uitlanders omtrent net een werk en dit is skottelgoed was. Dit is harde werk en dit betaal bitter min.

Ek sal nou maar eers groet, want my hande is te styf van die koue om verder te skryf. Hier is wel ‘n soort van verwarmer in ons eenvertrekwoonstel, maar ons sit hom nou al vir die afgelope twee weke nie aan nie. Hy vreet ponde en ons ponde is boomskraap.

Nou sal ek hierdie brief bêre, want ek sal hom nooit pos nie. More sal ek vir julle die brief skryf wat ek wel sal pos. Die brief waarin ek julle sal vertel van al ons interessante ervaringe op ons groot geleentheid oorsee. Van erdwurms op sypaadjies en van hoe snaaks die Yorkshire aksent is. Van die vrou in die winkel wat gesê het: “O-a-ê” en toe al die tyd bedoel het: “Do you want a bag?” en van hoe sy haar vererg het omdat ons haar nie kon verstaan nie en van hoe lekker ons later daaroor gelag het.

Tot more dan my liefste familie.

Lug vol helder wolke

Comments (12)

Die Fees van die Malles (met apologie aan Andre P. Brink)

Partykeer dink ek die Universiteit van Cambridge is ‘n magneet vir die raarste tipes mens. Hier werk hulle gelukkig voort, blykbaar sonder dat hulle ingeperk word deur die norme wat ons gewone mense aan bande lê. So is daar ‘n wiskunde professor, brilliant in sy veld, maar menssku soos min. Hy het ‘n baie groot persoonlike ruimte nodig, groter nog as die breë gange van die ou geboue in Cambridge. As hy jou van voor af teëkom suig hy vas teen die muur, en skuur kop onderstebo verby, sodat mens die onheilige lus kry om jou hand na hom uit te steek of hardop en beslis ‘Ho!” te sê. Net om sy reaksie te sien.

Maar eksentriekheid is nie tot die akademici beperk nie. Ons departement is ook baie verdraagsaam. So het ons byvoorbeeld vir Stan. Ek weet nie wat sy werksbeskrywing eintlik is nie, maar so elke nou en dan kry ons ‘n epos op die trant van dat ons self ons pakkies moet gaan haal as daar ‘n aflewering is vir ons, want Stan se dienste word elders benodig. Dit gebeur egter nooit, want voor die stoorman nog kan bel om te sê: “Daar is ‘n pakkie vir jou, kom haal dit asseblief,” kom Stan al die gang afgesuiker met die pakkie. Dan plak hy dit onserimonieel neer op enige plek in die lab en maak homself sit daarop. Daar sal hy ten minste vir ‘n uur sit en twak praat, terwyl jy half benoud in jou kop probeer uitwerk wat jou laaste bestelling was en of daardie pakkie dalk enige sensitiewe, radio-aktiewe of potensieel plofbare goed bevat. Jy kan in elk geval nooit die draad van sy stories volg nie, want sy stories vorder so met die gang af en met die trappe op. Hy vat hom sommer in die middel van die sin verder na die volgende lab. Al wat ek weet, is dat dit gewoonlik een of ander sonde met die bure behels.

Dan is daar ons Jamaikaanse teemaakster. Vriendelik, vrolik, volgerond en baie vryerig. My vriend, Saroj, is een van haar gunstelinge. Waag hy dit agter die toonbank in keer sy hom vas met allerhande onvanpaste aanmerkings. Net gister sê sy vir hom: “Saroj, that is a very bad cough you have. You need a good rubbing down. Oooh, I would like to do tha-at.” Die arme man vergaan amper, want hy is ‘n baie streng Hindu. Hy eet nie eers knoffel nie. Knoffel is blykbaar ‘n liefdesdoepa. Dit kan lei tot onheilige gedagtes en ander dinge.

Verder is daar ons hopeloos kens skoonmaakster. Sy is altyd besig om die voorportaal te vee in die oggende wanneer mense aankom en dan gluur sy jou aan, mompel onverstaanbare dreigemente en jy beter jou spring ken of sy kom jou met die besem by. ‘n Kollega het haar eenkeer gekry waar sy binne in ‘n stikdonker kas haar toebroodjie sit en eet. Sy woon partykeer ons departementele vergaderings by. Dan onderbreek sy elke nou en dan die departmentshoof met luide, onverstaanbare kommentaar.

Die wonderlikste is dat almal heeltemal gelukkig saamwerk. Niemand kla oor Stan sekerlik die mees nuttelose werknemer is nie. Niemand spreek ons teemaakster aan oor haar origheid nie en niemand het al vir die skoonmaakster, in een van haar min helder oomblikke, probeer oortuig om af te tree nie. Hoekom sal ons ook? Ons kry ons pakkies, ons plek is skoon en ons tee word bedien – met ‘n glimlag en ‘n tikkie menslikheid daarby.

Comments (3)

Beter kougom en uitstekende skole

Ek wonder nou oor ‘n ding na aanleiding van ‘n vriendin se dilemma. Haar dogter wil baie graag haar hoërskoolopleiding doen by ‘n baie gesogte skool wat so 2 kilometer van hulle huis af is. Maar hulle val amper ‘n kilometer buite die ‘catchment area’ van die skool. As jy in Engeland jou kind na ‘n staatskool wil stuur, wat meeste van ons doen aangesien privaatskole onbetaalbaar duur is, moet jy hulle na die naaste skool stuur. En aangesien standaarde van staat skole ongelooflik verskil is huispryse in die ‘catchment areas’ van goeie staatskole baie hoog. Vriendin oorweeg nou om haar huis te verhuur en met die familie van vyf na ‘n woonstel te trek in die regte area vir die skool. Sy moet dan daar gebly het vir ‘n jaar voordat hulle kan aansoek doen vir haar dogter vir ‘n plek in Gesogte skool. Hulle gaan dopgehou word of hulle regtig daar woon. Die kies register gaan geraadpleeg word en hulle motor lisensies beter die nuwe adres weerspieël. Na alles is ‘n plek in die skool dan ook nie gewaarborg nie. Daar is niks fout met die hoërskool naaste aan hulle nie, maar Gesogte skool het ‘n goed toegeruste musiekkamer en Gesogte skool het ‘n rekenaarkamer met platskerms en de lot, borrel sy entoesiasties. “Kyk,” se ek eendag vir haar. “Jy maak jou lewe onnodig moeilik met die trekkery en alles. Die skool waarnatoe jy gaan maak nie so baie saak nie. Vat nou maar vir my: Ons het nie ‘n keuse in hierdie dinge gehad nie. Jy is eenvoudig na die enigste skool in ‘n 50 kilometer radius gestuur. Daarna is jy na die enigste Universiteit binne ‘n 500 kilometer radius gestuur. Ek kan jou baie dinge vertel my skool se gebrekkige onderwys, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander keer. Die feit is dat ek ten spyte van alles nie te sleg doen nie.”
Toe kom sy met die uitklophou. Gesogte skool se wetenskap klub het ‘n prys gewen vir die beste voorstel om energie verbruik te verminder. Die kinders het ‘n nuwe soort kougom ontwerp wat van byewas en denneboom gom gemaak word en nie aan oppervlaktes vaskleef nie. Gewone kougom word van ru-olie gemaak en as dit eers plak klou dit soos superglue. ‘n Groot klomp energie en meer as a duisend liter water word per uur benodig om kougom wat ongeërg uitgespoeg en dan in die strate vasgetrap word met stoom onder hoë druk af te spuit. Gesogte skool se kinders se plaklose, bio-afbreekbare kougom is al gepatenteer en alles. Hulle prys was ‘n reis na die poolstreke waar daardie bevoorregte kinders nou saam met wetenskaplikes metings doen om die effek van globale verhitting vas te stel. Dit wil dan tog lyk of sekere omgewings innovering en kreatiwiteit aanmoedig (lees ook hierdie artikel oor innovering).


Van toe af wonder ek oor die ding. Sou ons baie anders gewees het as ons in Gesogte skole was? Sou ons meer kreatief wees, wyser, beter gevaar het in ons werk en die lewe in die algemeen. Sou ons interessanter mense wees as ons operas kon bywoon eerder as die een-keer-‘n-kwartaal se vlak Western in die skoolsaal? Sou ons aardskuddende ontdekkings gedoen het as ons wel somtyds ‘n insek of plant in die natuur dopgehou het of selfs eenkeer deur ‘n mikroskoop gekyk het eerder as om opstelle te skryf oor die rangskikking van blare aan ‘n petuna blom? Sou ons beter leiers gewees het as ons die gevolge en dade van geskiedkundige aksies vertel is (of moes aflei en uitwerk) eerder as dooie datums en feite?

Aaklige Kougom

Comments (6)

Wat werk die moeite werd maak

Mense sê gereeld vir my dat dit darem baie lekker moet wees om klas te gee by die Universiteit van Cambridge. Ja, dit is lekker. Die studente is geïnteresseerd, briljant en beleef. Nietemin is my teerste herinnering aan klas gee nog, van die tyd toe ek in Suid-Afrika was en ‘n praktiese klas aan ‘n plaaslike Technikon help aanbied het.

Die kursus wat ons aangebied het was ‘n oorbruggingskursus vir studente van agtergeblewe gebiede wat nie matrikulasie vrystelling gekry het nie. ‘n Tweede kans vir hulle om universiteit toegang te kry.  Aangesien daar geen manier was om te weet watter studente regtig nie die vermoë het om ‘n universiteitskursus te doen nie en watter studente net ‘n uiters swak en gefragmenteerde skoolopleiding gehad het, of hoe die twee dinge aanmekaarskakel nie, was daar geen keuring vir studente om die kursus by te woon nie. Ons het dus ‘n klas van individue met hoogs verskillende vermoëns gehad. So was daar een student, kom ons noem hom ML, wat geweldig gesukkel het. Ek sal die prentjie altyd in my kop hê van hom gebukkend oor sy eksperiment, gesig die ene konsentrasie, houding van desperate ywer om sy lewe te verbeter. Hy het selde ‘n eksperiment in die aangegewe tyd klaar gekry en nooit enige suksesvolle resultate behaal nie. Tot die dag dat ons besluit het om die beginsel van superversadigde oplossings aan die studente te illustreer. Dit is wanneer jy ‘n oplossing maak, teen ‘n baie hoër konsentrasie as wat jy gewoonlik die chemikalie kan oplos, deur die oplossing te verwarm. As jy dit dan stil los om af te koel sal die oplossing nie kristalliseer nie. Om dit dan te kristalliseer, kan jy bv. net met ‘n lepel teen die kant van die proefbuis skraap. Dit is ‘n baie eenvoudige prinsiep wat kinders gewoonlik vroeg op hoërskool al leer, maar aangesien meeste van die studente nooit eers ‘n proefbuis op skool vas gehou het nie, het ons dit ingesluit by hulle eintlike eksperiment, sommer so as ‘n interessante tersyde. Ons deel toe vir elke student ‘n proefbuis uit met die superversadigde oplossing in, met streng opdrag dat hulle nie daaraan moet raak tot aan die einde van die prakties nie, want dan gaan ons dit almal saam doen. Tevergeefs, daardie studente was heeltemal te gretig. Hulle kon daardie proefbuise net nie uitlos nie en het die heeltyd daarmee gevroetel, dit bekyk en dit geskud. Almal behalwe ML. Hy was weereens so desperaat besig om sy eintlike eksperiment te doen dat hy heeltemal van die proefbuis vergeet het. Na die prakties is sy oplossing ook toe die enigste een wat nog nie gekristalliseer het nie. Ek het die ander studente vorentoe geroep en vir hulle verduidelik dat ons gelukkig is dat ML se eksperiment gewerk het en dat ek nou dit sal gebruik om die beginsel van ‘n superversadigde oplossing aan hulle te illustreer. Ek vat toe sy oplossing, doen my ‘magic’ en siedaar, die oplossing begin kristalliseer van die kant van die proefbuis af. Almal het ge-oe en ge-a en ML het geswel van die trots. So trots was hy dat hy weke daarna nog vir my kom sê het: “Ma’am, that was a beautiful experiment Mam.”

Lewer Kommentaar

Older Posts »
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.